Quantcast
Channel: LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe) - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 120

Die boek Habakuk as teodisee en teologiese trauma

$
0
0

Die boek Habakuk as teodisee en teologiese trauma

S.D. (Fanie) Snyman, navorsingsgenoot, Departement Ou en Nuwe Testamentiese Studies, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 20(3)
ISSN 1995-5928
https://doi.org/10.56273/1995-5928/2023/j20n3c2

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Daar het in die onlangse verlede ’n belangstelling ontstaan in die ondersoek na die verband tussen ’n ervaring van trauma en tekste in die Ou Testament. In hierdie ondersoek word die profeet Habakuk se ervaring van trauma ondersoek. Dit is ’n veld van ondersoek wat nog braak lê. Na ’n kursoriese oorsig oor wat met die begrip trauma bedoel word ook wanneer dit in die konteks van die Ou Testament gebruik word, word die ondersoek in vier fases metodologies uitgevoer. Die boek word eerstens literêr ondersoek om die samestelling en inhoud daarvan te bepaal. Tweedens word die boek binne ’n bepaalde historiese konteks geplaas. Vir die doeleindes van die ondersoek is daar gekies vir ’n datering kort voor die optrede van die Babiloniërs teen Juda rondom 589–586 v.C. ’n Dominante tema in die boek is die teodiseevraagstuk. Gevolglik word daar ’n ondersoek gedoen na die hantering van teodisee in die boek as die derde fase van die ondersoek. In die vierde fase word ondersoek gedoen na wat genoem word Habakuk se belewing van teologiese trauma. Teologiese trauma is anders as kulturele of kollektiewe trauma en is die term wat hier gemunt is om die omstandigheid of situasie te beskryf wanneer ’n persoon of groep se ervaring van trauma nie klop met die beeld of idee wat hy/sy of hulle van God het nie. Met teologiese trauma word dus bedoel die ervaring of belewing van God se passiwiteit in ’n situasie van trauma en die gevolglike bevraagtekening van God in dié verband. Trauma word in verband gebring met God en daar ontstaan ’n spanning tussen dit wat as traumaties beleef word en God se betrokkenheid al dan nie by die trauma. Habakuk se ervaring van teologiese trauma verdiep algaande in die loop van die boek totdat dit in die laaste drie verse ontlont word wanneer die profeet se aanvanklike vrae aan JHWH verander in ’n jubelkreet ten spyte van ’n mislukte oes.

Trefwoorde: geweld; Habakuk; teodisee; teologiese trauma; trauma; traumateorie

 

Abstract

The Book of Habakkuk as theodicy and theological trauma

Trauma as an intense experience of loss, grief, pain, disruption and devastation is a universal human phenomenon. In the recent past a growing interest has been detected in the experience of trauma on the one hand and the Bible (and more particularly the Old Testament) on the other hand. An experience of trauma may lead to questions of a theological nature: Where was/is God in the midst of my suffering of trauma? Will I be able to believe in God in the same way I did before this disaster struck? Why did this happen to me now? Numerous characters in the Old Testament (Noah, Abraham, Sarai, Isaac, Jacob, Moses, Miriam, David, Jeremiah, Jonah) experienced events that may be described as traumatic.

The Book of Habakkuk forms the focus of this investigation. Methodologically, some remarks are made to clarify the meaning of what trauma is. The investigation is then done in four phases. The investigation starts off with a literary inquiry to determine the content and composition of the book. The two headings found in Habakkuk 1:1 and 3:1 clearly divide the book into two main parts. In the second phase the book is situated within a historical frame. Although dating an Old Testament book is always a risky undertaking, in this case the events surrounding the Babylonian exile (589−586 BC) were decided on as an appropriate period for dating the book due to the reference made to the Chaldeans/Babylonians in Habakkuk 1:6. An inquiry into the literary characteristics of the book as well as positing a historical frame for the book are regarded as a sine qua non for an investigation of this kind. The third phase consists of an investigation of the theodicy question treated in the book as one of its major theological themes. Theodicy is understood as the term to explain the relation between God and evil found in the world. The term derives from the Greek words for god (theos) and justice (dikē), and theodicy aims to explain why the loving, good and almighty God can allow evil in the world. Theodicy can also be seen as relating to the question of why righteous people have to suffer. It was found that the theodicy issue is only partially resolved in the book – the question posed by Habakkuk about why righteous people have to suffer violence is not really answered. The answer given to the question posed to God is that justice will prevail in the sense that those who are responsible for violence and injustice will eventually suffer the verdict brought about by YHWH himself. The righteous who suffer the violence and injustice by wicked people are encouraged to keep faith and trust YHWH. To keep faith means to keep believing in the God of justice even where little of his justice is to be seen. To keep faith also means to continue to do what is right simply because it is right to do so, even with no promise of reward. The fourth phase represents the main thrust of this contribution and addresses the issue of what is called theological trauma. Theological trauma (to be distinguished from cultural or collective trauma) is understood as a term to describe a situation where a person’s or group’s experience of trauma is in conflict with the perception the person or group may have of God. In the case of the Book of Habakkuk, the prophet finds it incomprehensible that YHWH as the God of righteousness can stand aloof in the presence of so much violence in society. According to the observation by the prophet, God is passive and aloof in the trauma a person or group has to suffer in the form of violence, injustice, destruction, strife and conflict (Habakkuk 1:2–4). The violence and injustice in society stand in direct conflict with YHWH as the God of justice. Moreover, the history of the redemption from Egypt is proof that YHWH does act against violence. This does not, however, happen in this case, and theological trauma is the result. The theological trauma of the prophet intensifies in the strange answer he received from YHWH: Violence and destruction will escalate when an invading foreign nation seizes their country. In an honest and straightforward way the prophet confronts YHWH and his apparent lack of action. Not only is the foreign nation violent; YHWH Himself is accused of being responsible for the violent treatment of his people. Trauma experienced is related to God and the result of this may be described as theological trauma. When that happens, tension is created between what the person or the group has to experience and God’s involvement, or not, in the traumatic events.

In the second part of the book the prophet does not pose any further questions to YHWH; instead, YHWH is addressed in a prayer. The prayer consists mainly of a theophany of YHWH, where YHWH is asked to manifest his power. YHWH is described as a warrior riding a chariot to meet the enemy. YHWH will act on behalf of his people, and the enemy will be devastated. The prophet surrenders to YHWH the mighty one. The theological trauma manifested itself in the physical reaction to the theophany of YHWH. The prophet’s heart pounded, his lips quivered and his legs trembled. The prophet who once bravely questioned YHWH’s righteousness can now only surrender to Him in submission. He can now only await the day when the invading nation will face the devastation of YHWH’s judgment upon them. It is remarkable that there is no mention of the wicked people mentioned at the beginning of the book; neither is the invading nation mentioned in the last three verses of the book. YHWH is no longer seen as passive, but is now viewed as the prophet’s saviour and strength. Later generations who were the victims of theological trauma could return to this book and recognise their own theological trauma in the theological trauma that Habakkuk experienced. This process of rereading the Book of Habakkuk continues to include current-day believers’ struggling with theological trauma caused by traumatic experiences. They may also come to find rest in God, even though their initial questions may not have been answered. Just as Habakkuk surrendered to YHWH to find rest in Him to discover that his feet are made like those of a deer and that YHWH enabled him to tread safely on the heights, current believers may have a similar experience.

Keywords: Habakkuk; theodicy; theological trauma; trauma; trauma theory; violence

 

1. Inleiding

Trauma as ’n intense ervaring van verlies, smart, pyn, ontwrigting en ontbering is ’n universeel menslike verskynsel. Daar sou gedink kon word aan die lot van miljoene Jode in Europa gedurende die Tweede Wêreldoorlog (1939–45) as gebeure van intense trauma. Op die Afrika-kontinent sou daar gedink kon word aan die menseslagting gedurende April 1994 waartydens talle persone onder die wreedste van omstandighede gedood is as ’n traumatiese gebeurtenis in die geskiedenis van Rwanda. In die Verenigde State van Amerika staan die gebeure van 11 September 2001 waarskynlik uit as ’n stuk trauma wat die Amerikaners beleef het. Ook kan Suid-Afrika beskryf word as ’n getraumatiseerde gemeenskap in die lig van die geskiedenis wat hom tussen verskillende bevolkingsgroepe afgespeel het.

Daar het in die onlangse verlede ’n belangstelling ontstaan in die verband tussen die ervaring van trauma en die Bybel in die algemeen en die Ou Testament in die besonder. So byvoorbeeld maak Claassens en Garber (2008:188) die geldige opmerking dat die ervaring van trauma (kan) lei tot die vra van teologiese vrae: Waar was/is God in my trauma? Sal ek kan aanhou glo soos wat ek in die verlede voor die trauma geglo het? Hoekom het dit nou met my gebeur? Ervarings van trauma laat mense godsdienstige of teologiese vrae vra na die betekenis van trauma. Die lees van die Ou Testament / Hebreeuse Bybel deur die lens van trauma het ook ’n perspektief geopen op die trauma wat figure in die Ou Testament / Hebreeuse Bybel moes beleef het. McMullen (2019:1–8) toon aan hoedat verskillende figure in die Ou Testament trauma op verskillende maniere moes ervaar het in wat hulle beleef het. Hy verwys na Noag wat die opdrag om ’n ark te bou, ontvang het, Abraham se ervaring op die berg Moria (Gen. 22) en Sara se aanvanklike kinderloosheid (Gen. 18:1–15). Hy verwys ook na Isak se ervaring op die berg Moria (Gen. 22), Jakob se ontmoeting met die misterieuse figuur (Gen. 28:24–31) en Moses se ervarings met die uitlei van die Israeliete uit Egipte (Eks. 3–14). Nog verdere voorbeelde sluit in Miriam se ervaring as die ouer suster van haar broer Moses (Eks. 2), Mikal se ervarings as die vrou van Dawid (I Sam. 19), Dawid (II Sam. 18) en Jona se wedervaringe op land en see. Die sogenaamde klaagpsalms bied ’n beeld van wat as trauma beskryf sou kon word in individuele gelowiges se lewe. Daar is min bekend van die persoonlike lewe van die Skrifprofete, maar in dié verband sou die belydenisse van Jeremia (Jer. 11:18–23; 12:1–6; 15:10–21; 20:7–13; 20:14–18) tog ’n perspektief bied op wat as trauma vir byvoorbeeld hierdie profeet beskryf kan word.

’n Verskeidenheid van navorsingspublikasies wat die verband tussen trauma en die Ou Testament ondersoek, is in die onlangse verlede gepubliseer (Becker, Dochhorn en Holt (reds.) 2016; Boase en Frechette 2016; Garber 2015:24–44). In ’n onlangse referaat verwys deClaissé-Walford (2023) na die ondersoek na trauma in die Psalms as een van die velde wat in die toekoms van Psalm-studies die aandag gaan geniet. Navorsing op die Skrifprofete van die Ou Testament en trauma is nog ’n braakveld. Wat betref die sogenaamde groot profete kan die navorsing van Esterhuizen (2016) oor die boek Jesaja, O’Connor (2011) en Claassens (2017) oor die boek Jeremia, en Garber (2005) en Poser (2012) oor Esegiël genoem word. Wat die boek Habakuk en trauma betref, is die navorsing wat Kim (2020:217–35) gedoen het, belangrik. Geen ander kommentaar kon gevind word wat trauma in verband met (die boek) Habakuk bring nie.

 

2. Hipotese en metodologiese raamwerk

Wat is trauma? Die term trauma kan teruggevoer word na die Griekse woord trauma (τραυμα), wat breedweg weergegee kan word as “wond”. Waar dit aanvanklik ’n fisieke besering as gevolg van geweld aan ’n persoon se liggaam aangedui het, het dit ook die metaforiese betekenis van ’n verwonding van die innerlike mens verkry (Groenewald 2018:89). Allen (1995:14) beskryf trauma as die subjektiewe ervaring van objektiewe gebeure wat uitloop op ’n oorweldigende gevoel van volledige hulpeloosheid. Vir Groenewald (2018:93) kan die gebeure wat trauma veroorsaak, beskryf word as ’n verhouding van dood en lewe. Trauma is ’n ontmoeting met die dood waardeur die mens ingetrek word in die sfeer van die dood tot so ’n mate dat die radikale ervaring(s) die bekende wêreld en die vermoë om in so ’n wêreld te leef, vernietig. Om hierdie rede word die term woord oorlewing gebruik in die nadraai van ’n traumatiese gebeurtenis, omdat die lewe ’n fundamentele koersverandering ondergaan wat vergelykbaar is met ’n doodservaring (Groenewald 2018:93). Trauma het te doen met die effek wat ingrypende ervarings soos oorlog, verkragting, ontvoering, mishandeling, ’n stryd om oorlewing, natuurrampe, pyn en lyding op die mens het (Esterhuizen 2016:38).

Trauma word beide individueel en kollektief beleef. Trauma wat individueel beleef word, het te doen met persoonlike ervarings van die stressors vir trauma wat hier bo genoem is. Trauma kan ook kollektief deur ’n groep mense of ’n gemeenskap beleef word (Esterhuizen 2016:28). Esterhuizen noem dat kollektiewe trauma emosionele en psigiese letsels laat wat die identiteit van die groep affekteer (2016:28). Claassens (2017:28–9) gebruik die term kulturele trauma om kollektiewe trauma te beskryf. Sy verwys na studies wat gedoen is en wat kulturele trauma omskryf as ’n dramatiese verlies van identiteit en betekenis en wat op dié manier ’n groep affekteer wat voorheen sosiale samehorigheid ervaar het. Dit spreek vanself dat ’n ervaring van individuele trauma ’n groep sal affekteer en ook omgekeerd: Kollektiewe of kulturele trauma word ook deur individue beleef. Kim (2020:222) verwys in dié verband na die Tweede Wêreldoorlog en die uitwissing van Jode – gebeure van kollektiewe trauma, maar wat persoonlik ervaar en byvoorbeeld in die bekende dagboek van Anna Frank, ’n individu, verwoord is. Traumateorie is ’n term wat verwys na ’n los, interdissiplinêre (wat o.a. die sosiologie, sielkunde, antropologie en literêre kritiek betrek) gesprek wat die durende gevolge van geweld op individue en gemeenskappe ondersoek (O’Connor 2016:303).

Wat die boek Habakuk betref, is dit Prinsloo (2021:11) se bevinding dat die boek gedra word deur twee aksente: die voorkoms van geweld en die teodiseevraagstuk. Hoe die boek Habakuk die probleem van teodisee aanspreek, geld as vertrekpunt vir hierdie ondersoek. Metodologies word die boek gelees deur die lens van trauma. Die hipotese wat ondersoek word is dat Habakuk, as profeet, ’n individu is wat trauma wat kollektief beleef word, op persoonlike vlak verwoord. Later in die geskiedenis word die individuele en persoonlike verwoording van trauma weer die kollektiewe verwoording van trauma deur ’n latere generasie. Die ondersoek word gedoen deur aandag te gee aan die literêre en historiese dimensies van die boek. Die aandag aan die literêre en historiese dimensies van die teks is nie alleen ’n sine qua non vir ’n geldige uitleg en verstaan van Bybelse tekste in die algemeen nie, maar is ook belangrik vir die interpretasie van trauma in Bybelse tekste. Boase en Frechette (2016:13) argumenteer oortuigend vir ’n sensitiwiteit vir die verhouding tussen historiese gebeure en die literêre weergawe daarvan. Die profeet Habakuk se ervaring van trauma veroorsaak deur geweld (Hab. 1:2) word aangetoon deur die lees van die boek met inagneming van die literêre en historiese dimensies van die teks.

 

3. ’n Literêre en historiese verkenning van die boek Habakuk

3.1 ’n Kursoriese oorsig oor die inhoud van die boek

Die boek Habakuk word verdeel in twee dele, Habakuk 1–2 en Habakuk 3. Die tweedeling word genoodsaak deur die opskrifte wat in Habakuk 1:1 en 3:1 gevind word en waardeur die boek duidelik in twee dele afgegrens word. Die inhoud kan opgesom word as ’n dialoog tussen die profeet Habakuk en JHWH (Renz 2021:196). Na die opskrif in Habakuk 1:1 waarin Habakuk gewoon aangedui word as “die profeet” sonder enige verdere inligting in terme van tyd van optrede of verdere inligting rakende die profeet, word die dialoog geopen met ’n klag van Habakuk (Hab. 1:2–4). Sonder dat dit duidelik gesê word, word aanvaar dat die volgende eenheid (Hab. 1:5–11) JHWH se antwoord op Habakuk se klag is. Habakuk 1:12–17 bevat die profeet se tweede klag, gevolg deur Habakuk 2:1, waarin Habakuk in afwagting is op JHWH se antwoord op sy tweede klag. Habakuk 2:2–19 bevat JHWH se tweede reaksie op Habakuk se klag. Na ’n oproep om stil te wees in die teenwoordigheid van JHWH (Hab. 2:20), word die dialoog in die tweede deel van die boek (Hab. 3:1–15) voortgesit. Hier antwoord die profeet in die vorm van ’n gebed waarin die koms van JHWH in ’n ontsagwekkende en vreesaanjaende teofanie beskryf word. Habakuk 3:16 bied ’n kort beskrywing van die profeet se liggaamlike reaksie op die voorafgaande skildering van die teofanie van JHWH. Die boek word afgesluit met ’n geloofsbelydenis van die profeet (Hab. 3:17–19a) gevolg deur ’n kort musikale aanduiding (Hab. 3:19b).

3.2 ’n Kursoriese oorsig oor die historiese tyd van ontstaan van die boek

Die datering van boeke of geskrifte in die Ou Testament is riskant en onseker. Habakuk is geen uitsondering in dié verband nie en geleerdes verskil oor die datering van die boek (Kim 2020:218; Prinsloo 2021:9). Vir die doeleindes van die artikel word ’n datering rondom die wegvoering van Judeërs in Babiloniese ballingskap gedurende die jare 597–586 v.C. gekies. Die enigste historiese aanduiding in die boek word gevind in Habakuk 1:6, waar daar melding gemaak word van die koms van die Galdeërs.

Vanaf ongeveer 625 v.C. was die Nieu-Babiloniese Ryk onder leiding van Nabopolassar, die opkomende wêreldmag in die Ou Nabye Ooste. In 612 v.C. word Nineve, die hoofstad van die Assiriese Ryk, verwoes en kort daarna, in 605 v.C., word ’n beslissende oorwinning behaal oor koning Nego van Egipte en word die Babiloniese Ryk die heersende wêreldmoondheid. Met die oorwinning oor Egipte het Juda nou ’n onwillige vasaal van die Babiloniese Ryk geword. Koning Jojakim neem die noodlottige besluit om in opstand te kom teen Nebukadnesar van Babilonië. Jojakim sterf in 598 v.C. en word opgevolg deur Jojagin. Na drie maande word Jojagin gedwing om oor te gee aan die Babiloniese magte en word hy saam met ’n deel van die koningshuis na Babilonië geneem. ’n Oom van Jojagin, Sedekia, word die laaste koning van Juda. Toe daar weer ’n opstand dreig onder leiding van Sedekia, tree die Babiloniese koning met mag op. Die tempel word verwoes, Sedekia se oë word uitgesteek en hy word ook na Babilonië verban. So kom die Suid-Ryk Juda aan sy einde met ontsettende verlies: Die Dawidiese koningshuis kom tot ’n einde, die beloofde land is onder die beheer van die Babiloniese Ryk en die tempel as aardse woonplek van JHWH is verwoes. Dié gebeure, gekombineer met die Babiloniese ballingskap, word só een van die mees traumatiese gebeurtenisse in die geskiedenis van Juda. Die ondenkbare het immers werklikheid geword.

 

4. Habakuk en die hantering van die teodiseevraagstuk

Teodisee is die tegniese term wat gebruik word om die probleem van God en die voorkoms van menslike lyding mee uit te druk. Die term teodisee kom van die Griekse woord vir god (θεος, theos) en geregtigheid (δικη, dikē). Dit poog om te verduidelik hoe om die liefdevolle, almagtige en goeie God te rym met die kwaad wat in die wêreld voorkom waardeur mense ontsaglike lyding verduur. Die Ou Testament gee op meer as een plek aandag aan die teodiseevraagstuk (Crenshaw 1983; Tambasco (red.) 2002). Die boek Job is waarskynlik die bekendste boek in die Ou Testament wat die probleem aanspreek, maar daar is ook gedeeltes soos Psalms 49 en 73 en selfs Maleagi (3:13–21) waar die teodiseevraagstuk aan die orde kom. Die verskillende gedeeltes in die Ou Testament waarin aandag aan die teodiseevraagstuk gegee word, beteken ook dat daar nie net een en ’n eenduidige antwoord op die vraagstuk gegee word nie. Olsen (2023) rubriseer in ’n onlangse voordrag die verskeidenheid van antwoorde wat die Ou Testament gee, onder twee hofies: Daar is ’n intellektuele en ’n oorlewingsreaksie op die teodiseevraagstuk.

Die boek Habakuk vra die vraag na die lyding van regverdiges (Keller 1973:156–67; Ko 2021:534). Die profeet vra die vraag na geweld, onreg, ellende en onderdrukking in die gemeenskap en is dus ontsteld oor die voorkoms van dié sosiale euwels. In Habakuk word die vraag van onregverdige lyding verder gevoer en in verband gebring met God. Waarom JHWH nie as die God van geregtigheid handel deur die ongeregtigheid van “slegte mense” (Hab. 1:4) te straf en geregtigheid te herstel nie, is die vraag van Habakuk (Bratcher 1984:67; Snyman 2022:94). Op hierdie vraag ontvang Habakuk ’n vreemde antwoord. Habakuk se probleem word nie opgelos nie. Inteendeel, die probleem word versterk in die sin dat ’n vreemde buitelandse mag, die Galdeërs, met selfs nóg groter geweld gaan optree teen die volk van die Here. Habakuk se vraag word gedeeltelik opgelos: JHWH is ten spyte van die voorkoms van geweld in die gemeenskap tog in beheer. God se beheer blyk uit sy vermoë om ’n vreemde buitelandse politieke mag as instrument in sy hand te gebruik. Die vraag wat egter nog onbeantwoord is, is die vraag waarom regverdiges onder die geweld en onderdrukking van onregverdiges ly.

Hierdie gedeeltelike antwoord op Habakuk se vraag stel nie vir Habakuk tevrede nie. Hy stel in ’n tweede ronde en in reaksie op JHWH se aanvanklike antwoord verdere vrae. In Habakuk 1:13 vra hy: “U wie se oë te rein is om boosheid te aanskou, wat nie kan toekyk waar daar leed is nie – waarom kyk U toe as mense verraderlik optree; waarom swyg U wanneer goddeloses dié verswelg wat regverdiger is as hulle?” In Habakuk 2:2–19 reageer JHWH op Habakuk se tweede vraag. Habakuk ontvang die opdrag om die antwoord op kliptafels te skryf sodat mense dit maklik kan lees. Die kern van JHWH se reaksie word in die bekende Habakuk 2:4 gegee: “Kyk, hy wat nie opreg is nie, kwyn weg – maar die regverdige – deur sy betroubaarheid sal hy lewe.” Dit is nie die plek hierdie om nou op die problematiek van die teks in te gaan nie, maar kortliks word daar twee sake aangestip in die antwoord van JHWH. Enersyds word Habakuk en die lesers van die kliptafels verseker dat JHWH nie onbewus is van die onreg in die gemeenskap nie en dat diegene wat skuldig is aan geweld teen die regverdiges deur JHWH vergeld sal word. Uiteindelik sal geregtigheid geskied aan diegene wat die onskuldige slagoffers van ongeregtigheid is. In die res van hoofstuk 2 word daar op uitgebreide wyse uitgewei oor die uiteindelike oordeel oor diegene wat skuldig is aan die geweld en ongeregtigheid in die gemeenskap. Die tweede en kursoriese deel van die antwoord handel oor die lot van die regverdiges terwyl hulle wag op ingryping deur JHWH. Kortliks kom die tweede deel van die antwoord daarop neer dat die regverdiges die geloof moet behou en bly vertrou op JHWH (Nogalski 2011:667–8). Om die geloof te behou beteken in dié konteks om te bly glo in God en dat sy geregtigheid uiteindelik sal geskied. Om betroubaar te bly lewe beteken in die konteks dat gelowiges sal aanhou om te doen wat reg is, selfs sonder die belofte van enige beloning (Bratcher 1984:322). Om betroubaar te bly is die manier om te lewe te midde van onreg en geweld. Gelowiges wat onder onreg ly, leef dus met twee weersprekende realiteite: Aan die een kant is God daar, God wat die goeie, barmhartige en regverdige God is; aan die ander kant is daar die realiteit van ’n wêreld van onreg en geweld. Gelowiges kyk beide dié realiteite in die oë. Gelowiges oorleef die onreg deur ’n lewe van betroubaarheid deur te bly reg doen te midde van ’n wêreld van onreg (Andersen 2001:11). Weer eens is die eerste vraag van Habakuk, die vraag waarom regverdiges ly, nie beantwoord nie. Die antwoord wat Habakuk op dié vraag kry, is eerder hoe regverdiges moet optree in ’n situasie waar hulle lyding ervaar.

Na die tweede antwoord van JHWH vra Habakuk nie verder nie. Dit is beter vir die ganse aarde (en vir Habakuk!) om eerder stil te wees in die teenwoordigheid van JHWH (Hab. 2:20). Alhoewel Habakuk nie verdere vrae vra nie, reageer hy met ’n gebed, met die bede dat JHWH tog barmhartig sal wees deur Hom te ontferm oor sy volk (Hab. 3:2). JHWH se ontferming sal blyk uit die ontsagwekkende en selfs vreesaanjaende beskrywing van ’n teofanie van JHWH (Hab. 3:3–15). Die profetiese boek sluit met ’n persoonlike belydenis van die profeet waar hy die oortuiging uitspreek dat hy sal bly juig want JHWH is sy krag en dit laat hom met vertroue op hoë plekke loop (Hab. 3:18–9).

Habakuk se vrae lewer vreemde antwoorde op. Die toestand waaroor hy kla, gaan erger word en daar word min gesê oor die lot van die regverdiges wat onreg ly. Hulle moet bly glo en vertrou. Die waarom-vraag word nie werklik beantwoord nie. Die gebed van Habakuk is dus ’n gebed van oorgawe aan die ontsagwekkende God in die skepping (Hab. 3:8–12) en die geskiedenis (Hab. 3:13–5) sonder dat sy vrae beantwoord is.

 

5. Habakuk se verwoording van trauma as teologiese trauma

Die boek open in Habakuk 1:2–4 met ’n klag van die profeet gerig aan JHWH waarin hy optree as verteenwoordiger van die gelowiges of regverdiges onder die volk (Renz 2021:200). Hierdie openingsverse is programmaties vir die res van die boek. Die inleidende perikoop kan in twee dele verdeel word. In die eerste deel (Hab. 1:2–3) vra die profeet die waarom-vraag. Hy kla oor die geweld, onreg, ellende, onderdrukking, getwis en bakleiery wat hy waarneem. Die woorde wat gebruik word vir die uitroep van die profeet na God spreek van ’n dringendheid en die intensiteit van ’n noodsituasie. Na die oordeel van die profeet het die wet sy krag verloor, is die reg nie meer te vinde nie en het goddeloses die oorhand oor regverdiges gekry tot so ’n mate dat regverdiges hulleself omsingel voel deur goddeloses.

Dit is duidelik dat die profeet trauma verwoord. Gemeet aan Allen (1995:14) se omskrywing van trauma as die subjektiewe ervaring van objektiewe gebeure wat uitloop in ’n oorweldigende gevoel van volledige hulpeloosheid, beantwoord die vrae wat Habakuk vra aan die omskrywing. Om ’n slagoffer van geweld te wees is trauma. Om onreg te ly is trauma. Om ellende te verduur, om onderdrukking te ervaar, om te leef in ’n omgewing van twis en stryd, is trauma. Om te ervaar dat die Tora sy krag verloor het en dat goddelose mense regverdiges omsingel omdat die reg verdraai word, is ’n ervaring van trauma, veral vir gelowiges soos Habakuk. Die trauma wat hier beskryf word, manifesteer op twee maniere. Aan die een kant is daar die fisiese ervaring van geweld, ellende, onderdrukking, twis en stryd. Aan die ander kant is daar ’n etiese dimensie wat ook trauma ontlok. Die Tora as etiese norm vir die Judeërs het sy krag verloor en die effek daarvan is dat die reg nie meer funksioneer nie, met die gevolg dat slegte mense die oorhand oor regverdiges kry.

Habakuk se trauma gaan oor meer as dit wat gewoonlik as ingrypende gebeurtenisse trauma by mense veroorsaak. Die profeet beleef trauma op twee vlakke. Aan die een kant beleef hy die trauma van dit wat hy om hom sien afspeel en wat hy met ’n verskeidenheid van begrippe beskryf. Vir Dietrich (2016:115) handel Habakuk se klag oor die ongeregtigheid van en tussen mense, maar terselfdertyd handel sy klag ook oor JHWH se swye oor die ooglopende ongeregtigheid wat hy as profeet waarneem.

Dit is hierdie tweede vlak van Habakuk se ervaring wat beskryf kan word as teologiese trauma. Met teologiese trauma word bedoel die ervaring of belewing van God se passiwiteit in ’n situasie van trauma en die gevolglike bevraagtekening van God in dié verband. Teologiese trauma ontstaan waar gebeure wat deur die slagoffer van trauma beleef word, nie klop met die beeld van God wat gevorm is deur tradisie en eie ervaring nie. Met die profeet se waarneming en ervaring van gebeurtenisse wat trauma veroorsaak, rig hy hom tot JHWH. Hy roep na JHWH, maar JHWH antwoord nie. Hy roep om hulp, maar sonder enige reaksie van God af. Die vraag van Habakuk is nie net ’n vraag na geweld in die gemeenskap nie; dit behels ook die vraag na JHWH en hoe Hy kan toelaat dat die geweld hoegenaamd kan gebeur (Smith 1984:99; Van der Woude 1978:17). JHWH gryp nie in in die omgewing van geweld, vernietiging, twis en rusie nie. JHWH is onaktief, en dit maak die profeet ’n slagoffer van teologiese trauma. Verder klop die belewenis van geweld en onreg nie met JHWH as die God van reg en geregtigheid nie. Terwyl Habakuk protesteer teen geweld, duld JHWH geweld deur sy passiwiteit teenoor die klaarblyklike voorkoms van geweld. Die teologiese trauma lê daarin dat JHWH nie gehoor gee aan die profeet se geroep nie. Die optrede, of eerder, beter gesê, die gebrek aan optrede van JHWH veroorsaak teologiese trauma. Die gebrek aan optrede staan in kontras met ’n vorige geleentheid in die geskiedenis toe die volk ook geroep het na JHWH in hulle nood en Hy ag geslaan het op hulle nood en daadwerklik opgetree het om sy volk uit die slawerny van Egipte te verlos (Snyman 2020:57).

Habakuk se teologiese trauma in die eerste perikoop van die boek word vererger deur JHWH se antwoord op Habakuk se eerste klag (Hab. 1:5–11). Aan die een kant word Habakuk se vraag, “Hoe lank nog, Here?” (Hab. 1:2), beantwoord met die versekering dat “daar iets in julle dae gaan gebeur” (Hab. 1:5). Terselfdertyd is JHWH se antwoord op Habakuk se klag ongewoon en ontstellend: ’n Vreemde nasie gaan onder die aanstigting van JHWH die geweld waaroor Habakuk kla, laat erger word (Dietrich 2016:119; Ko 2021:534). Die interne geweld binne Juda word deur JHWH beantwoord met eksterne geweld deur die Galdeërs, “die verbitterde en voortvarende nasie wat oor die breedte van die aarde gaan om woonplekke in besit te neem wat nie aan hulle behoort nie” (Hab. 1:6). Die diere in die metafore (luiperds, wolwe, arende) is roofdiere wat bekend is vir die gewelddadige en sluwe manier waarop prooi gevang en verslind word.

Die teologiese trauma verdiep. Hoe is dit moontlik dat JHWH, die God van geregtigheid, die geweld en onreg waaroor die profeet kla, laat eskaleer deur die inval van ’n vreemde nasie bekend vir sy wrede optrede teenoor ander nasies en grondgebied wat hy inneem? Hoe is dit moontlik dat JHWH geweld met geweld beantwoord as ’n antwoord op die probleem van geweld?

Habakuk reageer op die vreemde, en eintlik onbegryplike antwoord van JHWH met ’n hernude vraag aan JHWH (Hab. 1:12–7). Die fokus van Habakuk se vraag verskuif nou van die situasie van geweld en onreg in Habakuk 1:2–4 na JHWH self. Die verskuiwing van die fokus van die situasie na JHWH is ’n verdere aanduiding van teologiese trauma. Habakuk se begrip van God klop nie met die aangekondigde optrede van die Galdeërs nie. JHWH is immers die God wat in die geskiedenis sy volk verlos uit ’n situasie van geweld en onreg in die Eksodus-gebeure. Nou is JHWH verantwoordelik vir presies die teenoorgestelde: Die geweld en onreg van ’n vreemde nasie word nou die ervaring van die volk. In plaas van verlossing van ’n vreemde volk soos in die verlede, is verdrukking deur ’n vreemde volk nou die vooruitsig vir die volk.

Vir die profeet is JHWH “my heilige God”. Hierdie formulering in die eerstepersoon-enkelvoud spreek van ’n persoonlike oortuiging wat die profeet van God het. Dit gaan dus oor meer as ’n objektiewe stelling oor God en wie Hy is. Dit gaan hier oor ’n persoonlike geloofsoortuiging wat die profeet hier uitspreek (Snyman 2020:62–3). JHWH word ook beskryf as die Rots vir sy volk, soos wat Hy in Deuteronomium (32:4, 15, 18) bekend is. As JHWH beskryf word met die rotsmetafoor, kommunikeer dit stabiliteit, betroubaarheid, krag, beskerming en veiligheid (Szeles 1987:26). Hoe is dit moontlik dat die God “wie se oë te rein is om boosheid te aanskou” (Hab. 1:13), bloot ’n toeskouer kan wees en swyg wanneer “goddeloses dié verswelg wat regverdiger is as hulle”? JHWH en die optrede van die Galdeërs word baie nouer aan mekaar verbind as in die vorige perikoop. In Habakuk 1:14 word gesê dat JHWH mense behandel asof hulle visse is en in die volgende vers is dit die Galdeërs wat mense met hoeke vang en in nette vastrek.

Die teologiese trauma verdiep nog verder. JHWH is nie net passief met betrekking tot die geweld in Juda nie; Hy is aktief betrokke by die geweld wat deur die Galdeërs gepleeg word. Na die waarneming van die profeet is JHWH in konflik met sy eie wese (Van der Woude 1978:28). Daar is ’n teenstelling tussen die appèl wat op JHWH se morele integriteit gemaak word, ook as persoonlike geloofsoortuiging in Habakuk 1:12, en sy optrede in die verse wat volg op vers 12 (Floyd 2000:19). Die resultaat van die teenstrydige optrede van JHWH is teologiese trauma vir die profeet.

In die volgende perikoop (Hab. 2:2–19) word ’n verdere en uitgebreide antwoord van JHWH op die klag van die profeet gevind. JHWH se antwoord kulmineer in die bekende Habakuk 2:4. Volledige aandag kan nie aan die kompleksiteit van die vers gegee word nie (Dietrich 2016:126–31; Floyd 1993:473–7; Haak 1992:55; Renz 2021:287–90; Sweeney 1991:75–7), maar kortliks handel die openbaring van JHWH oor die lot van dié wat nie opreg is nie, gekontrasteer met dié van die regverdiges. Terwyl dié wat nie opreg is, nie oordeel sal moet verduur nie, sal die regverdige deur hulle getrouheid of betroubaarheid (getrouheid of geloof) bly lewe. Om getrou te bly aan JHWH is slegs deur geloof in Hom moontlik, en om geloof in JHWH te hê beteken om getrou te bly aan Hom (Renz 2021:290). Die uiteindelike lot van dié wat nie opreg is nie, word vanaf vers 5 in vyf wee‑orakels uiteengesit.

Wat opval, is die min aandag wat die lot van die regverdiges kry in die finale antwoord van JHWH, terwyl dit die aanvanklike vraag van die profeet is. Die profeet se teologiese trauma word dus nie volledig ontlont met die antwoord van JHWH nie. Op uitgebreide wyse word die uiteindelike uitkoms van dié wat nie opreg is nie, uitgespel in die res van hoofstuk 2, terwyl die lot van die regverdiges met ’n enkele sin bestaande uit slegs drie woorde in Hebreeus afgehandel word. Die regverdiges sal deur hulle geloof/betroubaarheid/getrouheid lewe. Die regverdiges sal deur hulle getrouheid om getrou te bly in hulle geloof in JHWH, lewe (Ko 2021:535).

Die vraag van Habakuk word ten minste gedeeltelik beantwoord. JHWH is nie onbetrokke of afwesig by die kwessie van menslike lyding as gevolg van geweld en onreg nie. JHWH sal ingryp by die geweld en onreg wat deur die Galdeërs gepleeg word. Hy is die een wat die val van Babilon sal teweegbring (Floyd 2000:117). Terwyl daar nie ’n antwoord gegee word op die vraag na waarom regverdiges ly nie, word daar raad gegee oor hoe hulle onder lyding behoort te reageer. Die laaste vers van Habakuk 2 vorm ’n gepaste einde vir die wee-orakels van die res van Habakuk 2. Die aarde word opgeroep om stil te wees in die teenwoordigheid van ’n God wat so magtig is soos die een wie se handelinge in die voorafgaande verse beskryf is.

Die opskrif in Habakuk 3:1 is aanduiding van die begin van die tweede deel waaruit die boek bestaan. Die tweede deel word aangedui as ’n gebed soortgelyk aan dié wat in die Psalmbundel gevind word (Pss. 17:1; 86:1; 90:1; 102:1; 142:1), teenoor die eerste deel, wat as ’n profesie aangedui word. Habakuk 3 bestaan hoofsaaklik uit ’n beskrywing van die magtige teofanie van JHWH (Hab. 3:3–15). Die gedeelte kan weer verdeel word in twee dele (Hab. 3:3–7 en 3:8–15). JHWH word beskryf as komende van Teman en die Paranberg, ’n gebied suid van Israel in die omgewing van Edom (Snyman 2020:83). Die noem van Teman en die Paranberg laat mens dink aan die prominente teofanie by Sinai (Haak 1992:83; Rudolph 1975:243; Van der Woude 1978:67). God se dade in die verlede van die volk word dus in herinnering geroep. Die verlede is getuie van JHWH se magtige dade van verlossing. Juis die verlede laat die verwagting ontstaan van ’n soortgelyke verlossing in die toekoms, wat dus die geweld en onreg van die hede sal regstel. JHWH word beskryf as die Heilige wat kom in mag, uitgedruk met behulp van die metafore van lig en horings (Haak 1992:86), gereed om onregverdiges te oordeel. In die volgende deel van die teofanie word JHWH aangespreek. JHWH word beskryf as ’n kryger wat in ’n krygswa die vyand tegemoet ry. So magtig is die verskyning van JHWH dat riviere stroom sodat “die oerwater sy stem laat hoor” (Hab. 3:10) en berge ineenkrimp. Die oorweldigende mag van JHWH in beide die natuur en die geskiedenis word dus beskryf. Die bedoeling met die skrikwekkende teofanie is die redding van die volk (Hab. 3:13). Habakuk se aanvanklike vraag in Habakuk 1:2 word dus beantwoord: JHWH sal ingryp en sy volk red.

Hierdie skrikwekkende beskrywing van ’n teofanie van JHWH staan in kontras met byvoorbeeld ’n teks soos Eksodus 34:6–7. In dié teks word JHWH beskryf as “’n barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid, wat troue liefde vir duisende bly handhaaf, wat skuld, oortreding en sonde vergewe.”

Op hierdie vreesaanjaende teofanie reageer die profeet met onderdanige oorgawe. Vers 16, wat as ’n keerpunt in die hoofstuk beskou kan word, beskryf die vrees van die profeet as reaksie op die teofaniebeskrywing. Die teofanie ontlok by die profeet ’n gelyktydige en teenstrydige ervaring van tremendum en fascinosum waarin die profeet geen ander keuse het as om homself oor te gee met aanvaarding en verbintenis aan JHWH nie (Hiebert 1986:113). Vers 16 bring ’n nuwe dimensie in die teologiese trauma wat die profeet ervaar. Die verskyning van JHWH laat die profeet met intense skok en gevolglike vrees reageer. In teenstelling met die moedige profeet wat dit met vrymoedigheid waag om JHWH se (skynbare) passiwiteit te bevraagteken en selfs vir ’n tweede keer vreesloos te bevraagteken, is die profeet hier oorweldig met vrees en durf hy nie verder vrae vra nie. Die waagmoedige bevraging van JHWH het plek gemaak vir ’n gedienstige onderwerping aan JHWH wat die profeet totaal oorweldig het. Die angswekkende aard van JHWH en sy gepaardgaande optrede wat in beide die natuur en die geskiedenis gesien kan word, skep ’n ander dimensie van teologiese trauma by die profeet. Dit is nie net JHWH se passiwiteit in die aansig van geweld en onreg wat teologiese trauma skep nie. Dit is ook die beeld van JHWH as gewelddadige kryger wat die profeet teologiese trauma laat ervaar, soveel dat hy sy liggaamlike reaksie daarop uitvoerig beskryf (Hab. 3:16). Die profeet se hele liggaam reageer op die beskrywing van die verskyning van JHWH. Hy beskryf hoe sy ingewande sidder, sy lippe gebewe het, sy bene lam geword en sy liggaam geruk het, waarskynlik die mees intense reaksie op ’n teofanie in die Ou Testament (Dietrich 2016:175). Die profeet beskryf sy fisieke reaksie op die teologiese trauma wat hy ervaar na aanleiding van die teofanie van JHWH. Al wat oorbly vir die profeet, is om te wag op die tyd wanneer die dag van oordeel wat aangekondig is, sal aanbreek.

Die laaste drie verse (Hab. 3:17–9) beskryf die finale oorgawe van die profeet aan die oormag van JHWH. Die verband tussen die mislukte oes wat beskryf word en die vraag na die optrede van die Babiloniese magte en die interne geweld en onreg in Juda is nie meteens duidelik nie. ’n Moontlikheid wat Dietrich (2016:176) noem, is dat die mislukte oes die gevolg van oorlog is. Gebeure wat op die groter wêreldtoneel afspeel, raak ook die wêreld van ’n tipiese Judese kleinboer. Die effek van oorlog as die gevolg van die inval van die Babiloniese magte het ’n effek op die oes wat op die lande van ’n kleinboer staan. Dit is opmerklik dat die misoeste van verskillende gewasse en die gebrek aan aanwas van diere nie weer die waarom-vraag by die profeet ontlok soos aan die begin van die boek nie.

Die profeet gee homself oor aan die God van geregtigheid wat weliswaar optree teen geweld in onreg, maar op ’n tyd en wyse anders as wat Habakuk verwag het. Ten spyte van sy ervaring van teologiese trauma bly die profeet verbind aan JHWH. Dit is opvallend dat die “slegte mense” wat die oorhand gekry het oor die regverdiges aan die begin van die boek (Hab. 1:4), en die dreigende geweld wat met die optrede van die Galdeërs sal gepaard gaan (Hab. 1:6), totaal uit die gesigsveld van die profeet verdwyn. Eweneens is die profeet se bevraagtekening van JHWH se (skynbare) passiwiteit nou ook nie meer ter sake nie. Sy fokus is nou op God, “my Redder”, wat vir hom die krag sal gee om te volhard totdat die uitkoms wat deur JHWH aangekondig is, sal aanbreek. Sy aanvanklike vrae verander in ’n jubelkreet. Hy vind sy krag in die magtige, onvoorspelbare, onpeilbare en tog regverdige God, selfs al is sy vrae net gedeeltelik beantwoord.

Latere generasies kon die boek Habakuk herlees en kollektief identifiseer met die individuele (teologiese) trauma soos in die boek verwoord. Kim (2020:224) argumenteer oortuigend dat die boek Habakuk transhistories geïnterpreteer is vir toekomstige geslagte as ’n manier om sin te vind in trauma wat kollektief beleef is. Wêreldmagte na die Babiloniërs was nie ideale wêreldmagte nie. Al het die ballinge onder die Persiese bewind die geleentheid gekry om terug te keer na die land, is die koningshuis van Dawid nie herstel nie. Ook het Juda ’n klein en ondergeskikte provinsie in die Persiese Ryk gebly sonder enige vooruitsig op politieke onafhanklikheid. Naballingskap profete soos Maleagi en die profesieë vervat in Jesaja 56–66 spreek die volk aan oor interne morele verval en gebrek aan toewyding aan JHWH in dié periode. Nog later in die geskiedenis, na die dood van Alexander die Grote in 323 v.C., was Juda vir ongeveer ’n eeu onder die beheer van Ptolemeus, een van Alexander se generaals. Rondom die jare 221–203 v.C. word Juda oorgeneem deur die Seleukiede (afstammelinge van Seleukus, een van Alexander se ander generaals). Dit was gedurende die heerskappy van die Seleukiede onder leiding van Antiochus Epiphanus (175–163 v.C.) dat die tempel verontheilig is (Bright 1967:399–406), wat die vraag na JHWH se geregtigheid opnuut laat opvlam het. Latere generasies kon dus in die beskrywing van Habakuk se individuele teologiese trauma hulle eie teologiese trauma kollektief eien en beleef.

Dieselfde proses wat hom in die geskiedenis van Juda afgespeel het, herhaal hom tot by hedendaagse lesers van die boek Habakuk. Hedendaagse gelowiges kan Habakuk ook vrugbaar lees om ’n antwoord te (probeer) vind op persoonlike en/of kollektiewe trauma. Die waarde van die boek se antwoord op die teodiseevraagstuk en gevolglike teologiese trauma is die uiteindelike tot rus kom in God selfs sonder dat alle vrae beantwoord is. Habakuk kry dit reg om uiteindelik te jubel sonder dat sy aanvanklike waarom-vraag volledig beantwoord is. Hy word tevrede met die antwoord wat hy ontvang het dat JHWH wel geregtigheid sal laat geskied en dat hy en medegelowiges intussen gelowig en getrou aan JHWH moet bly lewe. Wat vir Habakuk genoeg was om hom tot rus te laat kom in God, kan ook vir hedendaagse gelowiges genoeg wees om hulle tot rus te laat kom in God.

 

6. Gevolgtrekking

Habakuk is ’n profeet wat trauma ervaar as gevolg van geweld en onreg in die gemeenskap waarin hy lewe. Die intensiteit waarmee hy die trauma ervaar, word gesien in die verskeidenheid van woorde en begrippe wat gebruik word om dit wat trauma by hom veroorsaak, mee te beskryf. Daar is geweld, onreg, ellende, onderdrukking, getwis, bakleiery; die Tora het sy krag verloor, met die gevolg dat slegte mense die oorhand het oor goeie mense en die reg daardeur ondermyn word (Hab. 1:2–4).

Die persoonlike trauma verdiep na teologiese trauma. Teologiese trauma ontstaan wanneer die werklikheid nie langer klop met die beeld wat die persoon van God en God se manier van optree het nie. Vir Habakuk skep God se passiwiteit te midde van die geweld en onreg wat hy waarneem, teologiese trauma omdat die skynbare passiwiteit van God nie inpas by sy persepsie van God en God se aantoonbare handelinge in die geskiedenis van sy volk nie. Presies hieroor tree die profeet op ’n vreeslose manier met God in gesprek. Tydens die gesprek verdiep sy teologiese trauma. In plaas daarvan dat die geweld minder word, word dit onder die leiding van JHWH selfs meer. En nog erger: ’n Buitelandse moondheid sal die geweld pleeg. Die teologiese trauma verdiep nog verder wanneer die fokus van die profeet in Habakuk 1:12–17 verskuif weg van die komende opmars van die Babiloniërs na JHWH as die een wat die eskalerende geweld skynbaar passief en in kontras met sy karakter oogluikend goedkeur en selfs aktief bewerk.

Habakuk se teologiese trauma word slegs gedeeltelik ontlont. Hy word verseker (en waarskynlik oortuig) dat die geweld en onreg nie ongesiens by JHWH verbygaan nie en dat JHWH binne afsienbare tyd sal ingryp en ’n verandering in die situasie sal teweegbring. Die deel van Habakuk se teologiese trauma wat nie beantwoord word nie, is die vraag waarom regverdiges onder die geweld moet ly. Habakuk se ervaring van teologiese trauma word kortweg beantwoord (met slegs drie woorde in die Hebreeuse teks) dat gelowiges moet aanhou om reg te doen deur betroubaar, met vertroue, en gelowig te leef.

Aan die einde van die boek gee die profeet homself oor aan die oormag van God. Sy vrae aan God verander na ’n “jubel in die Here”, waar hy sal “juig in die God wat my verlos” (Hab. 3:17). Hy vind rus in God, al is sy aanvanklike vraag net gedeeltelik beantwoord. Die gedeeltelike antwoord is egter vir Habakuk genoeg om hom met voete soos dié van wildsbokke op hoë plekke veilig te laat loop.

 

Bibliografie

Allen, J.G. 1995. Coping with trauma: a guide to self-understanding. Arlington, VA: American Psychiatric Press.

Andersen, F.I. 2001. Habakkuk: a new translation with introduction and commentary. (Anchor Bible 25.) New York: Doubleday.

Becker, E.-M., J. Dochhorn en E.K. Holt (reds.). 2014. Trauma and traumatization in individual and collective dimensions: insights from Biblical studies and beyond. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Boase, E. en C.G. Frechette. 2016. Bible through the lens of trauma. Atlanta: SBL Press.

Bratcher, D.R. 1984. The theological message of Habakkuk: a literary-rhetorical analysis. Richmond, VA: Union Theological Seminary Press.

Bright, J. 1967. A history of Israel. Londen: SCM Press.

Claassens, L.J.M. 2017. Preaching the Pentateuch: reading Jeremiah’s sermons through the lens of cultural trauma. Scriptura, 116(2):27–37. http://dx.doi.org/10.7833/116-2-1313.

Claassens, L.J.M. en D.G. Garber. 2008. First words … faith facing trauma. Review & Expositor, 105:187–90.

Crenshaw, J.L. 1983. Theodicy in the Old Testament. Londen: SPCK.

deClaissé-Walford, N.L. 2023. Recurrent and current trends in the study of the Psalms. Ongepubliseerde referaat, kongres: Current trends in Old Testament research, Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat, 10 Julie 2023.

Dietrich, W. 2016. Nahum Habakkuk Zephaniah. (International Exegetical Commentary on the Old Testament.) Stuttgart: Kohlhammer.

Esterhuizen, E. 2016. A study of the tension between despair and hope in Isaiah 7 and 8 from a perspective of trauma and posttraumatic growth. DTh-proefskrif, Unisa.

Firth, D.G. en B.N. Melton (reds.). 2022. Reading the book of the twelve minor prophets. (Studies in Scripture and Biblical theology.) Bellingham, WA: Lexham Press.

Floyd, M.H. 1993. Prophecy and writing in Habakkuk 2,1–5. Zeitschrift für die alttestamentliche Wissenschaft, 105:462–81.

—. 2000. Minor prophets Part 2. (Forms of Old Testament Literature XXII.) Grand Rapids: Eerdmans.

Garber, D.G. 2005. Trauma, history, and survival in Ezekiel 1–24. PhD-proefskrif, Emory University.

—. 2015. Trauma theory and Biblical studies. Currents in Biblical Studies, 14:24–44.

Groenewald, A. 2018. “Trauma is suffering that remains”: the contribution of trauma studies to prophetic studies. Acta Theologica Supplementum, 26:88–102. http://dx.doi.org/10.18820/23099089/actat.Sup26.5.

Haak, R.D. 1992. Habakkuk. (Supplemmentum Vetus Testamentum XLIV.) Leiden: Brill.

Hiebert, T. 1986. God of my victory. The ancient hymn in Habakkuk 3. Journal of Biblical Literature, 120(1):123–30.

Keller, C.A. 1973. Die Eigenart der Prophetie Habakuks. Zeitschrift für die alttestamentliche Wissenschaft, 85:156–7.

Kim, C.-W. 2020. Reading the Book of Habakkuk through a lens of cultural trauma. Journal for the Study of the Old Testament, 45(2):217–35. https://doi.org/10.1177/0309089220903347.

Ko, G. 2021. Habakkuk. In O’Brien (red.) 2021.

McMullen, C.A. 2019. Processing trauma in the Hebrew Bible. Consensus, 40(2):1–8. https://doi.org/10.51644/NVKJ9331.

Nogalski, J.D. 2011. The Book of the Twelve: Micah–Malachi. (Smyth and Helwys Commentary.) Macon, GA: Smyth and Helwys.

O’Brien, J.M. (red.). 2021. The Oxford handbook of the minor prophets. New York: Oxford University Press.

O’Connor, K.M. 2011. Jeremiah: pain and promise. Minneapolis: Fortress.

—. 2016. Stammering toward the unsayable: Old Testament theology, trauma theory and Genesis. Interpretation, 70(3):301–13.

Olsen, D.T. 2023. Why, God, why? The variety of Biblical responses to human suffering. Voordrag gelewer by ’n predikantekursus, Stellastraat, Pretoria, 20 Junie 2023.

Poser, R. 2012. Das Ezechielbuch als Trauma-Literatur. (Vetus Testamentum Supplementum 154.) Leiden: Brill.

Prinsloo, G.T.M. 2021. “This wine is treacherous” (Hab. 2:5a): reading condemnations against violence in Habakkuk 2:5–20 from an eco-theological perspective. Journal for Semitics, 30(1):1–21. https://doi.org/10.25159/2663-6573/9096.

Renz, T. 2021. The books of Nahum, Habakkuk, and Zephaniah. Grand Rapids: Michigan.

Rudolph, W. 1975. Micha – Nahum – Habakuk – Zephanja. (Kommentar zum Alten Testaments XIII/3.) Güterloher: Gerd Mohn.

Smith, R.L. 1984. Micha – Malachi. (Word Biblical Commentary 32.) Waco, TX: Word Books.

Snyman, S.D. 2022. Perspectives on theodicy in Habakkuk and Malachi vis-à-vis Job. In Firth en Melton (reds.) 2022.

—. 2020. Nahum, Habakkuk, and Zephaniah. (Tyndale Old Testament Commentaries Volume 27.) Londen: Inter-Varsity Press.

Sweeney, M.A. 1991. Structure, genre and intent in the Book of Habakkuk. Vetus Testamentum, 41(1):63–83.

Szeles, M.A. 1987. Wrath and mercy: a commentary on the books of Habakkuk and Zephaniah. (International Theological Commentary.) Grand Rapids: Eerdmans.

Tambasco, A.J. (red.). 2002. The Bible on suffering: social and political implications. New York: Paulist Press.

Van der Woude, A.S. 1978. Habakuk Zefanja. (Prediking van het Oude Testament.) Callenbach: Nijkerk.

 

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Die boek Habakuk as teodisee en teologiese trauma first appeared on LitNet.

The post Die boek Habakuk as teodisee en teologiese trauma appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 120


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>